7 minute read

Loop katvoet vir dikvoetsiekte

‘n Verhoging in die pH van grond is die enigste doeltreffende oplossing om koolgewasse volhoubaar in grond te verbou waarin Plasmodiophora brassicae nie sal ontkiem nie.

Jan Greyling

MEDEWERKER

Vir ongunstige dikvoetsiekte-toestande waarin koolplante steeds sal floreer moet die water-pH-toets van die grondmonster minstens 7,2 tot 7,3 wees – dit is hoër as wat vir die meeste gewasse aanbeveel word, maar sal nie die kool se eie potensiaal demp nie.

Slegs gereelde grondmonsters sal die teenwoordigheid van veilige pH-vlakke, wat reuse verliese kan voorkom, verskaf. Grond-pH neig om van nature oor tyd geleidelik af te neem. Slegs wanneer die toetsuitslag ‘n veilige water-pH wys, sal koolgewasse weer veilig gevestig kan word. Hoewel beide ‘n water-pH en ‘n KCl-pH neutraal is by 7,0, is die water-pHmeting altyd minder suur as die KCl-pH-lesing, wat misleidend kan wees vir veilige brassica-verbouing.

Sou ‘n produsent enige van die kruisblomgewasse (Brassicaceae) in grond wil produseer waar dikvoetsiekte reeds voorkom, is die enigste oplossing om die grond se pH doelgerig te verstel. Dit is hoofsaaklik van toepassing vir kool, blomkool, brokkoli, brusselse spruitjies en radys- en mosterdsoorte, wat kanola insluit.

Hoe suurder die grond, hoe meer onstuitbaar sal die teenwoordigheid van dikvoetsiekte wees. Die patogeen wat dikvoetsiekte veroorsaak kom regoor die wêreld voor. Dit kom egter net in sekere dele van Suid-Afrika voor, aangesien hoë temperature en lae reënvalstreke nie gunstig is daarvoor nie.

Die identifisering van dikvoetsiekte en die benaming daarvan as P. brassicae is reeds in 1875 deur ‘n Russiese wetenskaplike, Mikhail Woronin, gedoen. “Dit is in wese ‘n oerswam,” vertel Francois Barnard, koolgewas-spesialis. “Woronin se werk is gedoen ten tye van die verlies van ‘n reuse koolaanplanting buite St Petersburg in Rusland. Bykans ses eeue voor dit is daar reeds in Europa na dikvoetsiekte verwys.

Dr Mariette Truter, senior navorser: gewasbeskerming by die LNR-kampus vir Groente, Industriële en Medisinale Plante, sê hulle weet nie wat die omvang van ekonomiese skade weens dikvoetsiekte is nie. Internasionaal, soos saadmaatskappye bevestig, is oesverliese gemiddeld 10% tot 15%, maar in toestande wat die siekte bevorder kan dit tot 50% en meer wees.”

NA BLADSY 24

Loop katvoet vir dikvoetsiekte

VAN BLADSY 22

Brokkoli-plante se dikvoet besmette wortelstelsels.

Kan vernietigend wees Barnard sê dikvoetsiekte wat reeds in 176 lande voorkom is nie die boer se vennoot nie. “Die siekte is in wese ‘n verskrikking wat die ekonomie van enige koolgewasboerdery kan verwoes.” Hy is reeds langer as ses jaar ‘n saadspesialis by InteliSeed op George en praat ernstig wanneer hy kwekers teen hierdie oesvernietiger waarsku.

“Die keuse van die heel beste weerstandige kultivars en nougesette bestuur sal bydra om volhoubaar te kan produseer. Die antwoord is egter nie om onbesmette saailinge in besmette grond te plant of besmette steggies in onbesmette grond nie. ‘n pH-verhoging kan sekerlik ‘n groot bydrae tot volhoubare produksie lewer, maar hoewel dikvoetsiekte volgens die aard van die seisoene minder kan word, sal dit nie verdwyn nie.”

Dr Truter sê onder die kruisblomtipes is kool een van die mees vatbare gewasse vir dikvoetsiekte. “Verskeie ander plante in die roos-, poppie- en grasfamilies word ook hierdeur geraak. Plante buite die kruisblomgewas-familie kry egter nie maklik die tipiese simptome nie.”

P. brassicae produseer veelkernige massa protoplasma (lewende deel van ‘n sel). Dit word plasmodium genoem, waaruit bewegende soöspore en langrustende spore ontstaan – hulle oorleef en reproduseer in grond en plantreste. Die rustende spore ontkiem wanneer gunstige wortelgroei (van gasheerplante) teenwoordig is.

“Dit is die plasmodia in die wortels wat deurlopend vermeerder en die verdikte wortelstelsel – dikvoetsiekte – tot gevolg het. Dié verdikkings vorm weer massas rustende spore, wat in die grond vrygestel word nadat verdikkings deur sekondêre organismes binnegedring word.”

Dr Truter sê die dikvoetsiekte-patogeen se langrustende spore kan langer as 15 jaar in die grond bly voortleef. “Die siekte is nie saadgedraagd nie, maar versprei wel in plantmateriaal, meestal saailinge. Saailinge wys eers na 3 weke simptome van infeksie en dit word dikwels gemis.“ Volgens Barnard kan die oorlewingstyd tot 20 jaar wees.

“Dikvoetsiekte kan deur enige beweging van grond – meganies, natuurlik, met skoene of voetsole of deur aangetaste saailinge – oor relatiewe lang afstande versprei. Verspreiding in ‘n spesifieke blok grond vind deur bewegende soöspore plaas, wat oor kort afstande swem en deur nat toestande bevoordeel word.” Dit is dan wanneer die massas amebe-tipe selle ‘n plasmodium word – ‘n klomp protoplasma met baie selkerns, maar met geen selwande nie.

Sy stem saam dat koel, nat grond (70% tot 80% waterhouvermoë) met ‘n lae pH (suuragtig) die patogeen bevoordeel en tot verdere verspreiding van dikvoetsiekte sal lei.

Ligloop om skade te verhoed Dr Truter sê die voorkoms van gunstige plantwortels en die teenwoordigheid van rustende spore en soöspore sal onder gunstige klimaatstoestande tot verspreiding lei.

Barnard voeg by: “Dit is werklik baie moeilik beheerbaar. Die organisme word deur grondbeweging van blok tot blok, plaas tot plaas en streek tot streek versprei, sonder dat jy dit sien gebeur. Die soöspore swem letterlik in nat grond. Die gasheer-

Dikvoet-simptome op blomkool se wortels. Francois Barnard is 'n saadspesialis by InteliSeed en 'n bedryfskundige van koolgewasse.

plante se wortels word deur die wortelhare of wonde aan die stelsel binnegegaan.”

Vermenigvuldiging gebeur waneer die spore dieselfde gasheer herindring, óf ‘n ander gasheerplant kies om aan te val.

Sommige van die bekendste spesies wat ideale gashere vir die soöspore is, sluit in rooiklawer, herderstassie (Capsella bursapastoris), doringpapawer, kweekgras, watergras, peperwortel, mosterd, boerenkool, koolrabi, brokkoli, blomkool, rape, kanola, roketslaai, radyse en wasabi.

Simptome is duidelik “Hoewel die siekte homself baie soos swamme gedra, is dit nie ‘n swam, ‘n virus of ‘n bakterie nie,” sê Barnard. “Wat jy sien is meestal opgeswelde wortels, wat gepaard gaan met blare wat verwelk voorkom tydens warm dae. Namate die plant agteruitgaan sal die verwelking permanent word.”

Die duidelikste simptoom van dikvoetsiekte is die abnormale groot wortels, wat verdikte sywortels en haarwortels, asook die penwortel en selfs die ondergrondse deel van die stam insluit, sê dr Truter.

“Geïnfekteerde wortels vergroot om knoppe (‘clubs’) van verskillende groottes en vorme te word, afhangend van die gasheerplant. Gewoonlik is die grootste knoppe net onder die NA BLADSY 26

Loop katvoet vir dikvoetsiekte

VAN BLADSY 25

Wortels van die twee jong blomkool-plante.

grondoppervlak op die groter wortels. Op gewasse met vleesagtige wortels, soos radyse en rape, vorm knoetse op die penwortel en sywortels. Op veselagtige wortels soos by kool en brokkoli se knopagtige wortelswellings, vorm spiraalvormige verdikkings op afsonderlike wortels. Wortelknoetse word dikwels deur bykomende bakterie of swamme binnegedring, wat wortelverrotting veroorsaak, wat tot plantvrektes kan lei.”

Een van die eerste simptome van ‘n land wat die siekte het, is dat dele wat nie versuipte kolle is nie, teen omtrent 3-4 ure na sonop verwelk, wanneer die plant se transpirasievlakke sy water-opname oortref. As sulke plante uitgetrek word, is daar abnormale swelling van die wortels en die knoetse belemmer die opname van voedingstowwe en water.

Ander simptome sluit die volgende in: • Vergeling, verdwerging en verwelking van plante; • verlaagde produksie en kwaliteit (houvermoë); • plante gaan voortydig dood; en • jong, wit knoetse op die wortels wat ferm is (die Britte het dit vingers-en-tone-siekte genoem).

Wat staan produsente te doen? Dr Truter bevestig daar is geen doeltreffende oplossing vir die uitwissing van die siekte nie. Dikvoetsiekte se beheer is moeilik en produsente moet volgens haar probeer om nie gesonde landerye met die patogeen te besmet nie. Dikvoetsiekte kan deur ‘n omvattende, geïntegreerde beheerprogram bestuur word, wat uit ‘n kombinasie van verskillende verbouings, chemiese en biologiese beheermaatreëls soos die volgende bestaan: • By ‘n lae klei-inhoud met ‘n pH < 7.2 kan bekalking van grond help. Te veel kalk kan egter tot voedingstekorte lei.

Byvoeging van kalsiumnitraat en boor in die grond het al gehelp om die siekte se voorkoms te verminder. • Wees baie versigtig om nie besmette grond deur implemente, werkers of afloopwater na gesonde lande toe te versprei nie. • Dit is baie belangrik om skoon, siektevrye plantjies te plant.

Saadbeddings moet goed gedreineer wees en minstens agt jaar vry wees van kruisblomgewasse. • Afloopwater van aangrensende grond af moet weggehou word van die saadbeddings. • Gebruik weerstandige kultivars, waar dit beskikbaar is. • Doen vir sewe jaar gewasrotasie met meerjarige voergewasse. • Verbeter landboupraktyke, soos deuropende dreinering. • Roei kruisblomgewas-onkruid uit, soos wilderadys, wildemosterd en voëlgras, binne en rondom produksielande.