8 minute read

Bedryfsleiers gesels oor 30 jaar in die vrugtebedryf

GENERAL

Goeie boere van 25 jaar gelede was waarskynlik kunstenaars met groen vingers, terwyl vandag se beste boere wetenskaplikes met analitiese vermoëns is wat die interaksie tussen grondgesondheid, boomgesondheid, vrugte, klimaat en die natuur verstaan.

Bedryfsleiers gesels oor 30 jaar in die vrugtebedryf

Bekendes in die vrugtebedryf gesels oor verandering – wat leer die afgelope dertig jaar ons oor die toekoms?

Anna Mouton

HORTGRO

“Ek kan onthou in my eerste jaar by Fruitways, in 1997, was ek by ’n oes-af-funksie gewees. Daai jaar was dit die eerste keer wat Graymead 35 000 kratte appels gepluk het. Nou pluk ons die laaste paar jaar meer as 70 000 kratte appels op dieselfde plaas,” vertel Hein Keulder, uitvoerende hoof van die Fruitways Groep. “In ’n periode van 20 tot 25 jaar het ons produksie verdubbel – basies in een geslag van bome.”

Keulder skryf hierdie vooruitgang aan stapsgewyse verbetering toe. Hy reken dat goeie boere 25 jaar gelede waarskynlik kunstenaars met groen vingers was, terwyl vandag se beste boere wetenskaplikes met analitiese vermoëns is wat die interaksie tussen grondgesondheid, boomgesondheid, vrugte, klimaat en die natuur verstaan.

“As ek die res van ons besigheid beskou – verpakking en bemarking – sien ek presies dieselfde,” sê Keulder. “Verbeteringe in tegnologie, mensvaardighede, stelsels en bestuur maak dat dít wat ons vandag doen en dit wat ons 25 jaar gelede gedoen het, wêrelde van mekaar verwyder is. Daar is by my geen twyfel dat ons as ’n bedryf daarsonder dood sou gewees het nie.”

Volgens Keulder is na-oes-vrugtegnologie tans een van die mees gesogte vaardighede in die bedryf. “Waar jy in die verlede ’n fabriek bedryf het met min insig en invloed verder af in die ketting, moet jy nou verstaan wat jy met hierdie vrug, wat op hierdie datum, onder hierdie omstandighede gepluk is, oor die volgende twaalf maande kan doen om die kliënt te dien.”

Na-oes-wetenskap gaan in die toekoms sonder twyfel belangriker word. Keulder sien markkragte as die sterkste dryfkrag van verandering gedurende die afgelope 20 tot 30 jaar, en glo dit sal in die toekoms voortduur. “Fruitways verkoop vrugte in meer as 70 lande oor vier kontinente – ons produk kom binne bereik van die helfte van die planeet se mense. Markkragte gaan die grootste uitwerking op ons hê omdat ons met die wêreld verbind is.”

Marktoegang en markpenetrasie is noodsaaklik vir die sukses van ’n bedryf, en Keulder sou graag beter belyning tussen die Suid-Afrikaanse regering en kommersiële bedrywe tot voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing wou sien.

Benewens markkragte dink Keulder dat wetenskaplike vooruitgang sal aanhou om die bedryf te beïnvloed. “Nuwe genetika en nuwe soorte plantmateriaal gaan ’n groot katalisator vir verandering in die bedryf wees. Daar is ongelooflike werk in genetika en biologiese wetenskappe, wat die manier waarop ons voedsel produseer vir altyd gaan verander.”

Doen meer met minder

Petru du Plessis is ’n steenvrugprodusent en tegniese adviseur op Stellenbosch wat ook by bemarking betrokke is. Hy het grootgeword op ’n vrugteplaas in die Koue Bokkeveld en werk reeds ongeveer 25 jaar in die bedryf. Hy reken die wêreld het “kleiner” geword, in die sin dat mense baie meer is aan mekaar verbind.

“Soos kommunikasie wêreldwyd verbeter het en die eenkanaalbemarkingstelsel gesneuwel het, het daar ewe skielik ’n tsoenami van nuwe kultivars oor ons landsgrense gekom,” sê Du Plessis. “Die Suid-Afrikaanse steenvrugbedryf het ’n leerskool deurgegaan om te weet dat die oorsese kultivars nie noodwendig beter is as dié wat plaaslik geteel is nie.”

Sommige van die nuwe kultivars was egter uitnemend en het na Du Plessis se mening ’n kwantum sprong in die steenvrugbedryf veroorsaak. “As jy die genetika van vrugte wat 25 jaar terug beskikbaar was vandag sou toepas, sou elke enkele steenvrugboer in Suid-Afrika bankrot gewees het.”

Die nuwe kultivars lewer baie groter vrugte, wat beteken dat produsente meer uitvoerkartonne per hektaar produseer. “Die beste produsent kon 25 jaar gelede kwalik 4 000 kartonne van 5,25 kg pruime per hektaar behaal,” sê Du Plessis. “Dis nie deesdae ongewoon vir produsente om 8 000 of selfs tot 10 000 kartonne per hektaar te pluk nie, en die Klas 1 uitpakpersentasie is hoër.”

Benewens groter vrugte, lewer die moderne kultivars ook beter eetgehalte en opbergingsvermoë, wat ’n positiewe gevolg gehad het op die toename van uitvoer.

Die ander verandering wat Du Plessis beklemtoon is nette. Toe hy begin werk het, was daar geen nette op enige vrugsoorte in enige vrugtegebied nie. Nette verbeter groeikrag en vruggrootte en verminder sonbrand en windskade. Nette verlaag ook watergebruik.

Du Plessis verduidelik dat nette produsente toelaat om meer te doen met minder. “Toe ek in die Koue Bokkeveld grootgeword het, was die plase groot, leeg en wyd. Daar was volop water vir besproeiing. In my leeftyd het water só skaars geraak dat daar nie eintlik meer nuwe hektare geplant kan word nie.”

Klimaatsverandering, stygende insetkoste en die vraag na residuvrye vrugte sonder plastiekverpakking gaan aanhou om die vrugtebedryf onder druk te sit. “Twintig jaar gelede het niemand eintlik gepraat oor klimaatsverandering, plastiekverpakking of die koste van elektrisiteit nie,” sê Du Plessis. “Ek is egter bly ons het ontwikkel tot op ’n punt waar ons besef

Nette verbeter groeikrag en vruggrootte en verminder sonbrand en windskade, dit verlaag ook watergebruik.

NA BLADSY 30

Bedryfsleiers gesels oor 30 jaar in die vrugtebedryf

VAN BLADSY 29

dat ons ’n uitwerking op die natuur het. Ons het nog nie ál die antwoorde nie, maar ons moet daaroor dink en oplossings vind.”

Vier geslagte van verandering

Paul Clüver, besturende direkteur van De Rust Landgoed, het reeds van sesjarige ouderdom besef hy is in boerdery. “Ek wou dié dag op my verjaarsdag vry gehad het, maar my pa het gesê hier kry mense nie af op hulle verjaarsdae nie. Ek het geskree en gehuil, maar toe het ek gaan werk.”

Paul en drie van sy susters is die vierde geslag Clüvers op De Rust. Karin Clüver is produksiebestuurder. “Dit is ongelooflik hoe die tegnologie en praktyke wat ons oor die jare gebruik het verander het. Een daarvan is die beskikbare kultivars, en ook nuwe praktyke van boorduitleg en onderstamme.”

Karin noem die voorbeeld van Gala. “Toe ons begin het, het jy goed gedoen as Gala 35 ton per hektaar dra. Nou moet Gala 100 tot 110 ton dra, met 80% uitpakke.”

Sy is veral positief oor die beskikbaarheid van data wat besluitneming op grondvlak vergemaklik. “Ons gebruik byvoorbeeld hommeltuie en satellietbeelde. Dit het goedkoper geraak en die kwaliteit is beter.”

“Ons het beweeg na presisieboerdery,” beaam Paul. “Die kapitaal vir ’n nuwe boord het dramaties toegeneem, maar die prestasie van daai kapitaal is ook dramaties beter.”

Paul reken dat die uitskakeling van tussengangers in die leweringsketting in die afgelope 30 jaar ’n noemenswaardige verandering was. Vandag praat produsente direk met supermarkte oorsee. “Die boer moet groot genoeg wees dat hy relevant is. So jy kry konsolidasie, wat oral in boerdery ’n makrotendens is. Dit is ook die enigste manier waarop jy die nuwe tegnologie kan bekostig.”

Volgens Paul was daar 30 jaar gelede, toe hy en Karin begin boer het, 65 aandeelhouerprodusente by Kromco, terwyl daar vandag 11 is. “Maar ons produseer 40% meer appels. Dit vertel vir jou die storie.”

Wat die toekoms betref is dit volgens Karin moeilik om spesifieke faktore uit te sonder. Sy neem beslis die uitwerking van klimaatsverandering en beperkte hulpbronne in ag wanneer sy nuwe boorde beplan, en sy maak ten volle gebruik van hulpmiddels soos geoutomatiseerde besproeiingstelsels en nette.

Paul glo dat appelproduksie onder nette binne die volgende paar dekades standaardpraktyk gaan raak, en dat dit een van drie makrotendense in die bedryf verteenwoordig. Die tweede een is dat meganisering se tempo gaan versnel, en die derde is dat die druk op die gebruik van chemise middels al hoe groter gaan raak.

Die storie van die steen- en kernvrugbedryf oor die laaste 20 tot 30 jaar, soos beskryf deur die Clüvers, Du Plessis en Keulder, is een van indrukwekkende groei in produksie danksy beter kultivars, praktyke en tegnologie. Hulle is dit egter eens dat produsente in die toekoms nóg meer met nóg minder sal moet bereik indien Suid-Afrika sy plek in wêreldmarkte wil behou.

Goal™ 480 SC

Die doel is eenvoudig.

Met Goal™ 480 SC, beskikbaar by Philagro, is die doel eenvoudig: skoon lande, gesonde gewasse en groter oeste. Die beproefde chemie van Goal™ 480 SC bied doeltreffende beheer van ‘n groot verskeidenheid breëblaar- en grasonkruidsoorte wat jou gewasse die beste kans bied op beter opbrengste.

KRAGTIGE WERKING Goal™ 480 SC beskik oor voor-opkoms sowel as geteikende na-opkoms aktiwiteit. As voor-opkoms onkruidddoder vorm dit ‘n chemiese versperring op die grondoppervlak. Ontkiemende sade of jong saailinge word hier gedood wanneer dit met die aktiewe bestanddeel oksifluorfen in aanraking kom. TALLE VOORDELE • Beproefde en betroubare produk wêreldwyd • Grond pH beïnvloed nie Goal™ 480 SC se doeltreffendheid nie • Hoë en lae temperature beïnvloed nie Goal™ 480 SC se doeltreffendheid nie • Wateroplosbaarheid is baie laag • Bind sterk aan gronddeeltjies en organiese materiaal • Lang nawerking: 4 – 6 weke residuele werking kan na elke toediening verwag word

Vir meer inligting oor hoe om hierdie seisoen jou doelwitte met Goal™ 480 SC te bereik, kontak jou naaste Philagro-handelaar.

RAADPLEEG DIE PRODUKETIKET VIR VOLLEDIGE GEBRUIKSAANWYSINGS EN -BEPERKINGS

Goal™ 480 SC (Reg. Nr. L8303 Wet Nr. 36 van 1947), bevat oksifluorfen, versigtig. Sumitomo Corporation Africa (Pty) Ltd (Reg. Nr. 2013/198830/07), Vloer 3, Suid-toring, Nelson Mandela Square, Sandton. Goal™ is die handelsmerk van Nutrichem Company Limited.