1 minute read

Die Kerk is maar net ‘n

“So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon?” (Jes. 66:1) Ek was op ‘n stadium so hartseer om te sien dat die “heilige” kerkgebou, waarin ek grootgeword het en meer as veertig jaar gelede in getroud is, verkoop is en nou ‘n koepel op het en ‘n moskee geword het! Dit was dan “die huis van die Here”! Toe ons grootgeword het het ons nie eens hard gepraat in die kerk nie want dit was ‘n heilige plek, ons het ons beste klere (en hoede) aangetrek as ons soontoe gegaan het, want dit was die huis van die Here. Dit was skoon en blink met mooi houtwerk, blink gevryfde vloere en rooi matte in die gangetjies, want die Here het daar gewoon En nou dat dit ’n moskee geword het, waar woon die Here dan nou? Het God nou minder heilig geword, of is sy eer aangetas omdat dié spesiale gebou nou vir iets anders gebruik word? Nee, definitief nie. Na my mening is die kerk net ‘n gebou van bakstene en sement, dit is eers wanneer óns daar ingaan en God aanbid dat dit ‘n heilige plek word. Waar Christene bymekaar kom is die Here in hulle midde, en word dit ‘n heilige plek, of dit in ‘n sitkamer, onder ‘n boom, in ‘n sel in die gevangenis, of in die mooiste, sierlikste kerkgebou is. Wat help dit tog as die kerkgebou heilig is, maar ons wat daar ingaan bied nie ons lewens en liggame aan God as ‘n heilige, afgesonderde woonplek nie? Na my mening is laasgenoemde veel belangriker! “Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon?” – óns is die plek waar Hy wil woon Hier is my gunsteling “so sê die Here Here” - vers vir vandag: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? ... die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.” (1 Kor. 3:17)

Advertisement