1 minute read

“BIG REVEAL”:

ARTIKEL DEUR: MAROELA MEDIA

Die vier beskuldigdes wat na bewering ʼn aandeel in die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester gehad het, het Maandagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, haar pa, Zolile Sekeleni, en nog twee beskuldigdes, Teboho Lipholo en Senohe Matsoara, het saam in die hof verskyn Lipholo is ʼn werker by ʼn maatskappy wat gekontrakteer is om kameras by die Mangaungmaksimumveiligheidsgevangenis te installeer en in stand te hou, terwyl Matsoara ʼn bewaarder by die tronk was. Sekeleni is borgtog van R10 000 toegestaan en indien hy dié bedrag betaal, sal hy een keer ʼn week by die polisiestasie op Port Edward moet aanmeld. Hy mag ook nie die distrik verlaat sonder die polisie se toestemming nie. Die saak is tot 16 Mei uitgestel wanneer Bester ook weer in die hof moet verskyn. Die landdros het ook beslis dat Magudumana en haar twee medebeskuldigdes in aanhouding sal bly tot hul volgende hofverskyning op 3 en 4 Mei. Dié drie sal dan aansoek om borgtog kan doen. Die beskuldigdes staan tereg op verskillende aanklagte, waaronder moord, dwarsboming van die gereg, medepligtigheid en brandstigting. Tydens die hofverrigtinge het die landdros gevra dat Magudumana, wat sedert haar terugkoms in Suid-Afrika haar gesig bedek, haar gesigsmasker en die kappie van haar baadjie verwyder om haar gesig te wys. Die staatsaanklaer in die saak het aangevoer dat hoewel hy begrip het dat sy moontlik “mediasensasie” probeer vermy deur haar gesig te bedek, is dit verregaande om te aanvaar dat sy haar gesig bedek terwyl die hof in sitting is. Magudumana het vlugtig haar gesig gewys voordat sy weer haar gesigsmasker en kappie opgesit het.

Advertisement